WISDOM FROM THE WORD

“The righteous shall flourish…
like a cedar in Lebanon” (Psalm 92:12)

WISDOM FROM THE WORD

The righteous shall flourish…

like a cedar in Lebanon” (Psalm 92:12)

Met My in die Paradys

Jesus het saam met misdadigers gesterf.  Twee veroordeeldes wat aan weerskante van Hom gekruisig is.  In daardie twee wat saam met Jesus gesterf het, sien ons ʼn weerspieëling van die ganse mensdom, want soos die Bybel sê, almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23). Elkeen van ons is ʼn skuldige sondaar voor God, en presies soos die twee misdadigers, is ons reeds veroordeel. Presies soos hulle sal ons ook eendag sterwe. En in daardie onsekere plek tussen hemel en aarde, waardeloos vir die wêreld en onwaardig vir die hemel, sal ons aan God  rekenskap moet gee vir ons sondes.

Wat ons ook in die twee veroordeelde misdadigers sien, is die uitwerking wat die evangelie op verskillende mense het.  Albei van hulle was ewe naby aan Jesus toe hulle gesterf het.  So naby  soos God se antwoord in die Goeie Boodskap van Jesus aan die mens is.  En soos die twee misdadigers, glo sommige in Sy evangelie en kom tot bekering, terwyl ander hom verwerp en selfs spot, om uiteindelik sonder God se vergifnis te sterf. Hul omstandighede was ook presies dieselfde. Hulle het dieselfde gesien, gehoor, en gevoel.  Tog het die een God se offer van saligheid aangegryp, terwyl  die ander dit tot sy ewige verderf verwerp het. Vir die een was die evangelie ʼn reuk van die lewe tot die lewe en vir die ander, n reuk van die dood tot die dood (2 Koor 2:16).  Lukas beskryf wat met hierdie twee gebeur het.

Lukas 23:39 Een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.

Hierdie twee mans was kwaaddoeners – veroordeelde misdadigers.  Met die bittere spot van iemand wie se hart geheel en al verhard was het die een gesê, As U die Christus is, verlos Uself en ons.  “As jy dan die beloofde Messias is, wys dan jou mag en red jouself van die dood.”  “As” was die spottende woord op meeste se lippe daardie dag.  Jesus was van alle kante af omring met twyfel en ongeloof. Sy skynbare swakheid was waaroor almal bekommerd was.  Almal het aangeneem dat as Hy homself nie red nie, dan kon Hy nie.  En as Hy Homself nie kon verlos nie, hoe kon Hy dan ander red?  Hulle het nooit vermoed dat Jesus self gekies het om te sterf nie. Dat Sy dood, in hul plek, en Sy opstanding uit die dode, die weg  sou skep tot die saligmaking van die ganse mensdom. Die twyfel en ongeloof in die skare daardie dag was weereens ʼn geval van hulle wat blindelings die meerderheid volg en aanhang vind by populêre gesindheid.  Maar as ʼn mens God se genade wil ervaar, moet hy gewillig wees om God se Woord ten spyte van die sinnelose geraas van die mensdom te hoor.  Daar was daardie dag  ʼn man wat só geluister het.

Lukas 23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?

Hier kyk ons na die ander misdadiger, ʼn man wat op sy einde gereed was om in Jesus te glo.  Sy naam word nie eens in die Bybel genoem nie.  Hierdie anonieme indiwidu kon nie minder belangrik gewees het nie.  Hy was ʼn aangekeerde krimineel, reeds verhoor en veroordeel.  Tog sien ons hoe hy God se ewige seën bekom deur ʼn paar eenvoudige dinge;

  • ʼn eenvoudige besef van sy eie sonde, en die bereidwilligheid om dit te erken.
  • ʼn eenvoudige besef van wie Jesus is.
  • Die eenvoudige vertroue dat Jesus hom kon help.

Jesus se woorde bevestig dat, deur hierdie eenvoudige dinge, die man saam met Hom in die paradys sal wees!

Lukas 23:41 Ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.”                                      

Hier is ʼn uiters eerlike bekentenis.  Wat is die punt daarvan om op hierdie stadium van ‘n mens se lewe subtiel te wees of weg te kruip?  Let op wat hierdie man van homself geweet het;

  • Hy het geweet dat hy in sonde geleef het, sy sonde ten volle moes erken, en dat hy niemand anders kon blameer nie.
  • Hy het geweet dat sy straf regverdig was, en dat hy die dood verdien.
  • Hy het geweet dat hy goeie rede gehad het om God te vrees. Hy sou binnekort sterf en sy Skepper ontmoet, ‘n konfrontasie wat hy beslis gevrees het.
  • Hy het geweet dat hy onwaardig was om in God se teenwoordigheid te verskyn en dat hy Sy genade benodig.
  • Hy het geweet dat sy siel ná die dood sou voortbestaan.
  • Hy het geweet dat dit onmoontlik was om God in sy eie krag te ken of te nader.

Hierdie was presies die tipe mens wat Jesus kom soek het om te red.  Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekeringhet Jesus gesê (Matt. 9:13).

Lukas 23:42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.

Let op die merkwaardige verskil in hierdie man se woorde. Dink aan my, Here, “wanneer” U in u koninkryk kom. Nie “as” nie maar “wanneer”. Terwyl woorde van twyfel op die skare se lippe was, het hierdie man God se leiding gevolg, in plaas van die gevoel van die mensdom om hom.

Terwyl die skare om hom Jesus van Nasaret mishandel en beledig het, het hierdie man Hom verdedig.  En hoe reg was hy nie! Hier is ‘n deurslaggewende les vir ons. Die skare rondom Jesus was verkeerd.  Wanneer dit kom by die dinge van God, is die skare gewoonlik verkeerd.  Wanneer ons die opinie van die samelewing volg moet ons nie verwag om God se waarhede en Sy seëning te vind nie.  Hierdie man se siening aangaande Jesus was teenstrydig met dié van die skare, maar dit was egter hy wat reg was. Die een  daar wat die paradys met Jesus  ontvang het. Hy het hom na Jesus gekeer, nie met woorde van twyfel nie, maar met belydenis van sy eie sonde.  En dit was die geheim! Dit is die weg tot oorwinning! Dit is die antwoord!  Dieselfde weg en antwoord wat vandag nog vir almal oop lê.

Wat het hierdie man van Jesus geweet?

  • Hy het geweet dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie, alhoewel dit gelyk het of hy net so skuldig soos hulle twee was.
  • Hy het geweet dat Jesus sou aanhou leef, of weer sou leef, alhoewel sy dood op daardie oomblik seker was.
  • Hy het geweet dat Jesus oppad was na Sy koninkryk, alhoewel Hy op daardie stadium soos ‘n totale mislukking gelyk het.
  • Hy het verstaan dat dit Christus se eie koninkryk sou wees. Dat Hy as die Messias die reg tot daardie koninkryk besit.
  • Hy het dus besef dat Jesus eintlik ʼn uiters waardige persoon was, nie ʼn krimineel soos Hy voorgekom het nie.
  • Hy het geweet dat toegang tot Christus se koninkryk beskikbaar was vir mense, dat Jesus dalk sy koninkryk sal deel.
  • Hy het geweet dat hy nie op sy eie toegang tot daardie koninkryk kon bekom nie, maar dat hy die toestemming van Christus, sy Advokaat, benodig. Hy het besef dat sommige ingelaat sal word, en ander nie.
  • Hy het geweet dat Jesus dalk selfs iemand soos hy sou aanvaar. Dus het hy verstaan, of ten minste gehoop, dat Jesus toeganklik was, en hom kon vergewe.
  • Hy het geweet dat as Jesus hom aanvaar, God hom ook sou aanvaar. In die dade van sy donker verlede het hy nie teen Jesus persoonlik gesondig nie, maar hy vra Jesus om toegang tot die Hemel, asof hy die God vra teen wie hy wel gesondig het.

Dit is merkwaardig hoe duidelik hierdie man se begrip was.

Sy versoek is ʼn eenvoudige gebed.  Hy vra nie om verlossing van die kruis nie. Hy aanvaar dit as die regverdige straf vir sy sondes.  Hy vra nie om verligting van sy lyding nie.  Sy mikpunt is veel hoër as aardse dinge.  Hy pleit vir die hoop dat God hom sal aanvaar na sy dood.  Met ʼn eenvoudige geloof in God se beloftes het hy geglo in die dinge wat nog sal kom, en hy het dit ontvang!

Lukas 23:43 Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”.

So maklik soos dit! Christus se antwoord was onmiddellik; ʼn Bewys van Sy bereidwilligheid om die ewige lewe aan hierdie man te gee. Al het sy aardse lewe absoluut niks bevat wat God kon behaag nie, moes hy slegs vra!

En het u opgelet wat dalk die wonderlikste aspek van hierdie verhaal is? Jesus het hom veel meer gegee as dit wat hy gevra of selfs voor gehoop het.  Jesus het gesê;

  • “Voorwaar” of waarlik – Geen twyfel! Daar was geen onsekerheid oor wat hy van Jesus sou ontvang.
  • “Vandag” – Geen vertraging! Nie ʼn vêr, vae dag in die toekoms, wanneer Jesus uiteindelik in Sy koninkryk kom nie.  Dit gaan “vandag” wees, voor môre, selfs voor vanaand.  Let op Jesus se behandeling van ʼn soekende siel.  Wanneer mens met ʼn eenvoudige geloof na Jesus kom  is Sy reaksie “ver bo alles wat ons bid of dink”.  Hierdie man het nie net gekry wat hy gevra het nie, maar soveel meer.

 

““““““““““““““““““““““““““““`

Inlas                                   

Oorweeg wat die woord, “vandag”, ook impliseer.  Onmiddellik na die dood is die gelowige se siel afwesig van die liggaam en aanwesig by die Here (II Kor. 5:8). Op dieselfde wyse sien ons aan die einde van Lukas 16, hoe Lasarus se siel onmiddellik na sy dood deur engele na Abraham se boesem weggedra word.  Dus sal die siele van die hulle wat aan Jesus behoort, aanhou bestaan na die dood.  Hulle word nie uitgewis nie, en hulle is bewus, na die dood.  Daar is nie so iets soos “siele-slaap” soos sommige mense beweer nie.  Die een wat Jesus ken as hy sterf ontvang onmiddellik die seëning van rus in die teenwoordigheid van die Here.

Vir sommige Katolieke kommentators loop dinge hier skeef.  Die feit dat Jesus  die woord “vandag” gebruik het, toe Hy verwys het na die paradys, klop nie met die konsep van ʼn vaevuur ná die dood nie. Maar Hy het ongetwyfeld die woord, “vandag”, gebruik! Geen oorgangsperiode nie, maar “vandag”! Geen reinigingsfase voor die paradys nie. “Vandag”! Die oomblik toe hierdie man sy laaste asem uitblaas was hy saam met Jesus in die paradys.  Om hul vals stelling te regverdig, verander sommige die leestekens na: “Ek verseker jou vandag, jy sal saam met My in die paradys wees”. Hulle poog om Christus se duidelike versekering aangaande die “wanneer” van die belofte te verwyder.  Hierdie opsetlike verdraaiing vind ons ook in die Jehovasgetuies se “nuwe wêreldse” vertaling van die Bybel.  Maar vra uself, waarom sou dit vir Jesus nodig gewees het om die woord “vandag” só te gebruik?  Die man het sekerlik geweet dat Jesus daardie dag met hom gepraat het. Wat anders kon “vandag” dan beteken? Geen redelike persoon sou hierdie skrifgedeelte só lees nie. Tensy die doel is om ʼn onwaarheid te ondersteun.

 

““““““““““““““““““““““““““““`

 

Jesus het hom van nog meer verseker;

  • “Saam met My” – Absolute verheugdheid! Slegs vir die geredde siel is dit ʼn vreugdevolle vooruitsig. Vir ons wat Jesus ken en lief het, is dit alles!
  • “In die Paradys” – Dit is geen droom of illusie nie. Die woord of konsep van paradys spruit uit die idee van ʼn park of ʼn tuin met ʼn ooglopende voorstelling van Eden.  Dit verwys na die plek waar die siele van die regverdige dooies vertoef na die dood.  Jesus gebruik hierdie woord in Openbaring 2:7 om te verwys na die hemel.  Dus met die uitdrukking van sy geloof in Jesus, het hy toegang verkry tot die plek waar die regverdige dooies hulle bevind.  Waar Jesus saam met hom sal wees.

Kom ons kyk ʼn bietjie meer deeglik na hierdie man se verbasende antwoord.  Daar was daardie dag vir hom verskeie struikelblokke wat in die pad kon gestaan het van sy geloof in Jesus;

  • Sy omgewing en die stemming van die skare om hom was heeltemal teenstrydig met dit wat hy wou glo. In elkeen van hulle was daar slegs twyfel, haat, afkeur en bespotting teenoor Jesus. Dat Jesus daar langs hulle aan ʼn kruis hang, het Sy verwerping slegs meer duidelik gemaak.  Die Jode en die Moslems verwys steeds hierna as ʼn bewys dat Jesus swak was.  Hulle sê: As Hy waarlik die seun van God is kon dit nie gebeur het nie, of ten minste nie in Sy dood geëindig het nie.  Dit is in die natuur van die mens om sonder veel gedagte die siening van die samelewing aan te neem. Ons denke kan só maklik bederf word as ons bereid is om na die stem van die mensdom om ons te luister.  Hierdie man het egter na God se stem geluister.
  • Hy kon verbitterd gewees het dat God die omstandighede waarin hy hom bevind het toegelaat het. Maar hy was egter nederig. Dit is die verskil!  En sou hy, sonder die tragedie, ooit daardie oomblik van eenvoudige geloof, en die ewige seën van verlossing ondervind het?  Met die  lewe wat hy gelei het is dit seker onwaarskynlik.  Ons kan God loof vir die tragedie, want daardeur het hy Jesus op die kruis ontmoet en is hy van ʼn verskriklike ewigheid gered.
  • Hy kon gedink het dat hy té sleg of té onwaardig was, om só ʼn guns te vra. Maar, sonder om te twyfel, het hy gekom, net soos Jesus elkeen van ons ook nooi om te doen.
  • Hy kon heeltemal verward gewees het deur sy eie verdriet.
  • Hy kon iemand anders of sy lewensomstandighede verkwalik het vir sy mislukking.

Maar hy het hom egter in eenvoudige geloof op Jesus beroep. En hy het  die saligheid daar gevind!

Soveel geestelike waarhede kan uit die transaksie tussen hierdie misdadiger en Jesus geleer word.  Dink hieroor;

  • Hy het geen geleentheid gehad om te bewys dat hy die saligheid gevind het nie. Dit is dus nie nodig om ons geloof te bewys om daardie geloof ʼn werklikheid te maak nie.
  • Hy het geen geleentheid gehad om goeie werke te beoefen nie. Hy was reeds op die kruis.  Goeie werke is dus nie nodig om gered te word, en die ewige lewe te beërwe nie.
  • Hy het nie tyd gehad om gedoop te word nie. Die doop word dus nie benodig om gered te word nie.
  • Hy was nie in staat om deel hê aan enige sakrament of ordinansie nie. Daar is dus geen sakrament, ordinansie of ritueel wat ons benodig om Jesus in die paradys te sien nie.
  • Hy kon nie lid word van ʼn kerk nie. Dat ons name op die ledelys van ʼn kerk is het dus niks te doen met wie se name in die boek van die lewe is nie.

Hierdie gelukkige man het slegs erken dat hy ʼn sondaar is en geglo dat Jesus die enigste Een is wat hom die ewige lewe kon gee.  Só is hy gered, en verseker van sy plek in die paradys met Jesus.  En as dít die geval was met ʼn naamlose, veroordeelde misdadiger, dan is daar hoop vir elkeen van ons.

My vriend, wat van jou? Het jy al by Jesus gepleit om toegang tot die paradys. Daardie paradys wat slegs deur eenvoudige geloof in Hom aan elke siel beskikbaar is. Hy wil dit aan jou gee. Jesus het beslis op die kruis gesterf, maar Hy het oorwin deur, tot die ewige lewe, uit die dode op te staan. Jesus het gesê, Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is” met die belofte “Ek sal julle rus geeen Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie (Matteus 11:28; Johannes 6:37).

Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Hnd. 16:31). “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36).

 

““““““““““““`

Wie is ʼn goeie mens?

“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10)

 

Wie het gesondig?

Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23)

 

Wat is die gevolg van sonde?

Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:23)

 

Wie het die prys vir ons sonde betaal?

Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8)

 

Hoe kan ek gered word van die straf en skuld vir my sonde?

“Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”  (Rom. 10:13)